Groenvoer Hidroponies Sonneblomme Doel: Om jou eie stelsel te bou op die mees effektiefste metode sodat groenvoer deurlopend geproduseer kan word. Ons sal kyk na verskillende metodes en hoeveelhede maar ons gaan 350 kg/dag as basis gebruik. Jy benodig dan 700 liter water per dag teen 0,6 tot 2 bar(6 tot 20 meter). Die water gaan ons egter ook verminder en die verbruik verbeter. Ons gaan ook nie die kus streke bespreek nie maar dit is bloot omrede die winters nie 'n rol speel nie. Stap 1 Beplan volgens wat jy reeds het Bepaal wat jy het om te gebruik. Normaalweg het mense 'n afdak, stoor of buitekamer. Anders moet jy iets bou. Ons gaan vir jou ook planne vir 'n tonnel gee wat jy bo-oor kan sit vir die winter maande. Jy kan ook jou stoor/afdak toemaak vir die winter. Dan sal ons ook n lys van materiaal vir n plastiek-kamer met staalraam vir jou gee wat jy as alternatief kan oorweeg. Die afloop water moet jy benut so neem dit in ag oor hoe jy dit gaan herwin deur dit byvoorbeeld met sementblad en pype te laat loop na 'n krip. Of uit 'n gat/ondergrondse tenk te pomp na 'n dam. Let op dat 'n gewone sementblad wat nie geseel is tot 700 liter water kan dreineer. In so geval moet jy die sement seel om jou water te herwin. In die somer is dit te warm want ons wil temperature van 24 tot 26 bedags handhaaf. Jy wil dus 'n oop stoor of afdak gebruik waar die koelte en wind benut kan word. Die winters is weer te koud en daarom wil ons in die winter die groenvoer toemaak om die ontkieming en groei vinnig te kry. Dan benodig jy so 2.2 meter breed vir die rak plus so 1 meter vir werk en loop area om die rak. Die lengte wat ons gaan gebruik is 6,15 meter. Jy kan aanpassings maak maar neem in ag dat ons die groenvoer gaan benat met "reen" of "mis" sproeiers. Ons gaan 7 vlakke maak plus sproeiers vir die boonste rak. Totale hoogte is 2,3 meter.
Jy kan ook 2 enkel rakke weerskante van die stoor gebruik met n loopspasie in die middel. Ons gebruik die aanmekaar rak omdat ons verkies dat die water van alle kante na die middel spuit. Dit is egter nie n vereiste nie. Stap 2. Beplan jou voer area. Jy kan die voer op 'n bakkie of sleepwa gooi en dan na die diere neem of jy kan dit direk in die diere se bakke gooi. Die hele idee egter is om dit maklik te maak en om die arbeid te beperk. Ons gaan dubbel bakke gebruik vir die kweek proses en 1 bak weeg dan so 15 kg. Hier is n opset waar die beeste naby die stoor gevoer word; Stap 3 Normaalweg het mense water vir drink doeleindes wat ook vir die doel goed sal werk. Jy moet egter nog 'n pomp installeer of n tenk wat mistens 5 meter bo jou rak is.. In my geval plaas ek 'n sonpomp in 'n tenk wat toegerus is met 'n bal en klep(ball valve). Soos vir 'n krip word die tenk dus volgehou vanaf 'n tenk (of dam). Belangrik is om seker te maak dat jy krag of sonkrag het. As jy 'n dompelpomp vanuit 'n boorgat gebruik is dit verkieslik om 'n drie fase pomp te gebruik want ons gaan 1 minuut per uur water pomp vir die kweekhuis. Dus gaan die pomp baie "start" wat mag maak dat die gewone enkel fase pompe nie lank hou nie. Ek gebruik sonkrag omrede ek ten alle koste geld wil bespaar om die kos teen minimale kostes te produseer. Die beste is n tenk op n staander met net n elektriese klep wat 1 minuut elke uur oopmaak. As ek die kapitale uitleg vir die bou van die stelsel dus buite rekening laat kos die groenvoer my net die gars wat ek moet koop. So, as ek 1 sak van 50kg moet koop teen R160 per sak kos die voer my R160 per 350 kg. Dit is dus so R460 per ton.
Stap 4 Die koop van die onbehandelde saad soos gars is die hoof uitgawe. As jy nie jou eie het nie moet jy in jou omgewing 'n goeie produsent of verskaffer kry wat jou deurlopend kan voorsien. Jy kan ook koring, sorghum, kanola, hawer en soortgelyke items gebruik. Selfs mielies maar nie vir die wintermaande omrede mielies moeilik ontkiem en te maklik dood ryp. Ons het tans nie goeie kennis van al die verskillende produkte nie en gaan eers op gars konsentreer. Die ander produkte mag egter ander voordele inhou waarna ons later sal kyk. Stap 5 Beplan jou diere se kos. Die eerste wat mense my baie vra is of jy dit alleen kan voer en hoeveel want hulle wil 'n voerkraal begin vir skape of kalwers. Dit spreek eerstens dat mense nie ondervinding het van voerkrale nie. Dus is dit moeilik want voerkrale gaan nie net oor kos nie maar ook oor jou vermoe om handel te dryf. Jou vermoe om 'n oog te ontwikkel vir slaggate soos siek diere en wat 'n goeie prys is. Beperking van siektes tussen jou diere en ook "siek" kos. Ons gaan nou kyk na gesonde kos maar ek beveel nie aan dat jy alleenlik op hidroponiese groenvoer moet staat maak nie. In die binneland het ons 2 items van belang. Die name is swak kos in die wintermaande en daarna. Tweedens het ons droogte tye. As jy dus saam met die droe gras hierdie groenvoer gee gaan jou diere nie net beter die swaartye oorleef nie maar ook gesonder wees en dan nog beter produseer ook. Soos melkbeeste vat ek nie die melkmeel weg nie maar verminder dit bloot. My kostes vir voer daal dus terwyl die melk met die groenvoer vermeerder. Let op dat jou bottervette net effe verhoog maar die volume melk vermeerder heelwat. Di, terwyl jou uitgawes daal. Dan kan jy ook swak of goedkoop gebaalde voer saam gee as jy nie voldoende gras het nie. Mense of ander Boere voer wel diere op groot skaal soos in voerkrale saam met goedkoop voere om dit meer ekonomies te maak as byvoorbeeld om die diere met semels(chop) te voer. Vetmes voere is baie goed maar bykans almal kla dat dit te duur is met die gevolg dat hulle nie winsgewend kan voer nie. Dan is daar baie mense wat bloot die groenvoer gebruik om meer diere op hul grond aan te hou. Ons gebruik 15 kg vir beeste en 2,3 kg vir skape. Vir varke en hoenders wil ek ook meer weet oor die effektiwiteit daarvan. Die energie waarde is hoog so 11 tot 13 MJME en die protiene wil ons nog verhoog verder bo 19%. Dan ook oor droe materiaal wil die somme nie korrek werk nie en dit is beter om die groenvoer met groen gras te vergelyk. Gedroogte gras soos in bale is nou net eenvoudig minder voedsaam as groen gras. So ook groenvoer.
Stap 6 Geld sake. Nou hoe gemaak as jy min geld het. Ons het reeds verwys na die punt om te kyk wat jy reeds het. Ons wil min kapitaal spandeer. Daarom gaan ons net die nodige koop. Ons gaan nou kyk wat jy nodig het. Afdak/stoor of so iets. Rakke- R 10 000. (Pryse gedurende 2016) Bakke om in te kweek - R 17 000 (R95 elk vir dubbel bakke 1m X 0,5m X 40mm hoog) Pomp of elektriese klep - R 1500 tot 7000 vir sonpomp. Reen/mis sproeiers (30 sent elk) Medisyne. Saad. Plastiek Emmers R250. Tydskakelaar(Timer) R400. 8mm boute met moere. (Wat nie roes nie) 14 T-stukke 6 Terugslag-kleppe. End proppe (endcaps) en PVC gom. Kabel stroppe (cable ties) 16mm pyp vir water na sproeiers Afhangend van wat jy alles het en wil doen behoort dit jou so R30 000 tot R40 000 te kos teen die gekoopte stelsel van R86 000. (Ek het in 2016 weer pryse gekry en selfbou tot R50 000 wat plastiek-kamer insluit. Die gekoopte stelsel was R340 000 plus BTW. Effens n verskil of hoe?) Dan gaan ons later kyk na die toemaak vir winter maande maar onthou in die somer soek ons eerder koelte, lig en lug. In die somer is die gekoopte stelsels te warm weens swak isolasie. (Dit kook in so kamer en met lugversorger raak jou kragrekening buitensporig.) Dit is dus beter om 'n oop stelsel te bou omdat jy meer protiene kan kweek as in 'n toe kamer of tonnel. Stap 7 Jy moet besluit of jy staal of plastiek rak wil bou. In die geval van staal moet jy al die punte toemaak met proppe en alles goed verf met self etching primer en daarna met enamel. Ons gaan nou kyk na n plastiek rak. Kom ons begin om die rak te bou. Ons gaan so 50 PVC pype gebruik wat jy normaalweg vir badkamers se wasbakke gebruik. 50 mm. Die hoofrede is dat dit redelik beskikbaar is en nie roes nie. Ongeveer R70 per lengte.(pryse mag styg en kwaliteit is nie almal dieselfde nie.) Kry goeie pype want die gewig kan tot 2500 kg vir die voer wees. Dan het jy 110 mm boute met moere nodig wat nie roes nie. Jy kry "high tensile" wat jy kan gebruik of jy kan vra vir boute en moere met 'n verhoogte chroom inhoud.
Die rak gaan 6 meter lank wees en ons gebruik dus vol lengte pype plus die dwars stutte. Bakke As jy werk met 50 kg sakke gaan jy 25 dubbel bakke per dag benodig. Omdat dit nie inpas op 6 meter pype gebruik ons net 24 dubbel bakke. Die laaste bak se saad word dan tussen die ander 24 bakke verdeel. Jy benodig dan 24 X 7 dae se bakke = 168 dubbel bakke. Bou die rak Stap 8 Saag 6 pype van 2,3 meter lengtes vir die regop stutte/pale. As jy wil kan jy die boonste 0,3 meter las sodat jy 3 pype uit een lengte kan kry. Die boonste 300 mm is net om die sproeiers aan te heg en dra dus nie gewig nie. Stap 9 Saag nog 6 pype van 2,1 meter vir die middelste regop stutte asook die 4 hoek stutte. Die binneste stutte en hoek stutte gaan dus nie sproeiers bevat nie. Die sproeiers kom reg rondom net aan die buitenste stutte en spuit dus almal na binne. Stap 10 Saag 28 van 2 meter elk wat die dwars stutte gaan vorm. As jy 1 meter bakke het moet jy 2,2 meter stutte saag sodat die bakke tussenin pas. Dit is beter om eers die bakke te koop voor jy begin om seker te maak al jou bakke pas tussen die stutte. Ons gaan 900 mm X 500 mm gebruik. Ons maak ook voorsiening as jy bakke van 1meter X 500 mm gebruik. Moenie deurmekaar raak nie. Plaas jou bakke op die grond en kyk dat jou sake reg beplan is voor jy al jou pype saag. Stap 11 Plaas gom in al die entproppe of "endcaps" en plaas dit op al die stutte wat jy nou gesaag het. As jy die boonste gedeeltes wil las moet jy dit nou doen en die bo en onder punte van die stutte met end proppe toemaak. Dit versterk die punte. Gebruik goeie beproefde gom.
Dwars stut vir 1meter bakke is 2.2meter Eerste regop stut Stap 12 Begin om 1 van 2.2 meter regop stut/paal plat op die grond te plaas met 2 pale van 2 meter weerskante. Plaas nou een dwars stut bo-op. Die dwars stut gaan die onderste stut vorm wat dus plat op die grond sal wees as ons klaar is. Die dwars stut plaas jy dus gelyk met die regop stutte se onderste punte. Stap 13 Boor die buitenste regop stutte en die dwars stutte sodat jy die punte kan vasbout. Gebruik 'n plank om op te boor. Stap 14 Spasieer die midelste regop stut sodat dit in die middel is. Boor en bout vas. Moenie te erg wees sodat die boute die pype stukkend druk nie. Stap 15 Plaas die volgende dwars stut op sodat die spasie tussen in 250 mm is. Die senter tot senter afstand is dus 300mm. Kyk dat jou regop stutte mooi parallel bly. Boor en bout vas. Stap 16 Herhaal stappe 12 tot 15 om die stut aan die anderkant van die rak te vorm. Jy het dus nou die eerste en laaste regop stutte. Twee middelste stutte Stap 17 Herhaal nou stap 12 tot 15 maar let op dat die middelste regop stut net 2,1 meter hoog gaan wees en die aan die kante 2,3 meter. Jy moet die proses dus nou herhaal sodat jy 2 middelste regop stutte gaan kry. Stap 18
Vir 1meter bakke is die langpype 700 mm uit mekaar. Rig jou rak op met pype wat 6 meter lank is. Dit is die pype waarop jou bakke gaan rus. Hou die stut nou regop in die plek waar jy die rak wil oprig. Die eerste of buitenste stut se dwars stutte moet nou aan die binnekant van jou rak wees. Stap 19 Plaas nou een vol lengte pyp bo-op die dwars stut sodat die punt net voldoende is om vas te bout. Boor en bout vas. Onthou dat al jou pype moet end proppe op kry. Boor deur jou endproppe vir maksimum sterkte. Stap 20 Neem nou 'n binne stut met die korter middel stut en plaas dit 2 meter vanaf die eerste regop stut. Boor en bout vas. Stap 21 Neem nog een vol lengte pyp en plaas dit bo-op die boonste dwars stut sodat jou rak nou begin staan. Meet, boor en bout vas sodat dit dieselfde as die onderste pyp is. Stap 22
Intalleer nou die volgende regop stut sodat daar nou 3 stutte in totaal is. Stap 23 Draai die laaste stut om sodat die dwars stutte na die binnekant van die rak wys. Bout vas. Let op dat al jou bakke moet langs mekaar op die 6 meter pyp gepak kan word met die laaste bak wat effens kan uitstaan. Dus 500mm breed bakke X 12 bakke = 6 meter. Jou rak is breer as die bakke se breedte van dus 900 mm bak plus 900mm bak is 1.8 meter. Jou rak is 2 meter breed sodat die bakke op die breedte tussen die 3 pote inpas. ( Vir een meter bakke is dit dus 1meter plus 1 meter = 2 meter. Jou rak is 2,2 meter breed. So kan jou bakke maklik inpas tussen die 3 pote op die breedte.) As jy twyfel oor jou kwaliteit van pale kan jy by elke middeldte paal nog een installeer sodat daar dubble pale is in die middel van elke stut. Stap 24 Plaas al jou horisontale pype in en bout vas. Let op dat die binneste pype 500 mm van die buitenste pype moet wees of vir een meter bakke 700mm. Elke vlak kry 2 pype vir die een bak en 2 pype vir die anderkantste rak se bak. Dus 4 pype van 6 meter elk op elke vlak en daar is sewe vlakke vir sewe dae. Totaal dus 28 pype. Mooi gespasieer sodat jou bakke lekker in en uit kan skuif. Jou rak mag nie papperig wees dat dit soos n konsertina kan plat val nie. Jy het dus goeie vaardigheid nodig om die boute net styf genoeg te draai. OPSIE: Jy kan jou pote opsaag in klein stukke en met T-stukke las. Die T-stuk pas dan in jou dwars stutpype. Sommige beweer dit is sterker maar ek was nie tevrede met die gom nie. Die goed het uitgeval. Die boute kan weer in die plastiek skeur. So het alles maar n nadeel. As jy egter sukkel kan jy 2 pote in die middel van elke stut plaas in plaas van net een soos ons beskryf het. Besluit maar self. Sproeiers en pype Jou rak is nou klaar, roes-vry en stewig. Ons gaan nou jou sproeiers installeer en dan kan jou bakke ingesit word. (Neem in ag dat jou oortollige water kan herwin word as byvoorbeeld drinkwater vir vee. Jy kan ook jou rak aan jou gebou stut vir ekstra sterkte.) Stap 25 Koop reen (rain) sproeiers of ook bekend as mis sproeiers wat 50 % en 1 meter sproei gee. Die sproeiers word so gerangskik dat dit na die binnekant van die rak gaan sproei.
Stap 26 Plaas 'n plastiek pyp van 16 mm teen die kant van die rak en meet af sodat daar by elke buite paal of regop stut van die rak 'n sproeier sal wees. Kyk op prent vir geelpyp na die sproeiers en een regop pyp. Die regop pyp sal die water verprei na al die vlakke van die rak. Stap 27 Installeer die sproeiers in die pyp en maak die sproeiers en pype vas aan die rak met kabel stroppe (cable ties). Gebruik 2 per paal oorkruis. Stap 28 Kyk dat al die sproeiers horisontaal sal spuit en na die binnekant van die rak. Stap 29 Herhaal die proses aan die bokant van elke rak. Stap 30 Installeer een vertikale pyp met 2 T-stukke en 1 terugslag-klep vir elke rak. Dus, as die water van onder op die een punt van die rak ingepomp word sal elke rak water kry en ook van twee kante. Die terugslag-klep tussen elke rak moet keer dat al die water nie afhardloop na die onderste rak as die pomp stop nie. (Of as die elektriese klep toemaak nie. Afhangend wat jy wil gebruik.)
Stap 31 Koppel jou pomp/klep op en toets jou water stelsel sodat alles stewig is en al die sproeiers na binne spuit. Die sproeiers moet ook horisontaal spuit sodat dit nie teen die bakke of pype vas spuit nie maar die sproei egalig versprei. Stap 32 Kyk na jou afloop stelsel sodat al die water wat mors, en uit die bakke loop, herwin kan word. Die bakke moet kan dreineer anders word die spruite vrot. LET WEL Ons sirkuleer nie die water nie want dit veroorsaak swamme. Jy moet dus altyd vars en skoon water gebruik vir jou sproeiers. Vuilgoed mag ook nie die sproeiers blok nie. Stap 33 Koppel jou tydskakelaar aan die pomp en stel dit om 1 minuut elke uur te pomp. Begin kweek. Week die saad Mielies maar pasop vir ryp Stap 34 Neem 'n medisyne maat of plastiek teelepel en gooi saad medisyne in 5 van 20 liter plastiese emmers volgens die saad medisyne se voorskrif.
Stap 35 Gooi elke emmer so half met water sodat dit meng met die medisyne. Stap 36 Gooi die emmer so half met gars saad wat nie met byvoorbeeld gif behandel is nie. 5 emmers behoort voldoende te wees vir 50kg saad. Gooi nou al jou saad (50kg per dag) in 5 emmers met medisyne en water. Laat dit staan vir ten minste 4 ure om te ontkiem teen so 24 tot 26 grade Celsius. Poog met ondervinding om die water te laat absorbeer oor minstens 4 ure. Laat oornag staan. Stap 37 Was die bakke elke dag. Gooi 5 ml medisyne in 20 liter water of volgens voorskrif van die medisyne. Gebruik 'n groot skottel waarin jy die bakke kan was met 'n plastiek borsel en lap. Die medisyne sal die bakke steriliseer. Was elke dag die dag se 24 bakke. Stap 38 Meet die saad af met 'n plastiek houer wat so 1kg (droog gemeet) se saad sal kan vat. Gooi die saad in die bak. Ek gebruik dubbel bakke so jy moet 1 kg in die een helfte gooi en 1 kg in die ander helfte. (Gebruik net eers eenmalig 1 kg droe saad en laat dit week vir 4 ure. Kry dan 'n houer wat al die geswelde saad sal vat. Gebruik die houer daagliks.) Stap 39 Skud die saad in die bak sodat die saad egalig versprei en plaas die bakke een vir een in die rak. Gebruik die rak se hele onderkant sodat die gewig oor die hele rak verspreid kan wees. Nie bo-op mekaar net aan die eenkant van die rak nie. Elke dag gebruik jy een volle vlak. Stap 40 Herhaal die stappe elke dag. Jy gee die voer aan jou diere op dag 8. Jy kan dit vinniger doen as jou spruite vinnig groei maar met voldoende lig en lug moet jou spruite baie groen wees. Stap 41 Een laaste stap. Maak jou saad en groenvoer toe vir rotte en roei die rotte uit as dit pla. Maak ook toe met draad of so iets vir ystervarke, ape of likkewane indien dit in jou omgewing kan pla..
Let wel: As die nag of vroeg soggens se temperature koud is sal dit help want dan groei daar nie swamme nie. Swamme sal lyk of die spruite gemuf is en kan dan nie gebruik word nie. As jou stelsel te warm is sal dit swamme bevorder terwyl te koud sal jou ontkieming en groei te stadig wees. Deur die vertrek/stoor/afdak dus in die winter met deurskynende plastiek toe te maak sal jy beter groei kry. Ook gaan ons jou op hoogte hou van verbeterings. Laat weet ons hoe dit gaan of wat jy kan verbeter aan die groei of voedingswaarde. Ondervinding van die gebruik laat mens die stelsel beter benut. Ons praat weer so hou jou e-pos dop. Verbeterde groei en voeding Ons het nou ons rak met bakke waarin ons die spruite kan groei. Daar is egter nog punte om in ag te neem of om te onthou. 1. Ons medisyne is uitsluitlik daar om swamme te voorkom en ontkieming te bevorder.. 2. Ons gee vars water eke keer en was die bakke met medisyne. 3. Ons week die saad in medisyne vir 4 ure of oornag. Daarna begin die ontkieming en gee ons nie meer water in die emmers nie. 4. In die rakke spuit ons elke 1 minuut per uur die skoon water wat daarna uit die bakke dreineer. Die water gebruik ons daarna as drinkwater vir die diere of so iets. 5. Ons toets nog of dit nodig is om snags in die donker ook nat te spuit. Sommige mense spuit net bedags van vroeg tot laat. 6. Ons sal in die winter bepaal wat die effektiewe temperatuur ten opsigte van groei is. 7. Kunsmatige ligte kan gebruik word om vanaf die kante die rak te belig. Die effektiewe tydsduur is egter nog nie bekend nie. 8. Hoe die protiene verhoog kan word sal nog meer beproef word asook hoe ander soorte saad benut kan word. Deur verskillende saad te meng word ook gedoen maar ons weet nog nie wat al die voordele behels nie. 9. Geen verbetering word verkry deur die eerste 8 dae kunsmis by te voeg nie. 10. Deur gras of spruite te droog en daarna die waardes te bepaal gee foutiewe resultate. Sommiges beweer dat dit bloot water is wat verdamp tydens die droog proses maar ons het gevind dat as jy die resultate op diere meet die groen gras meer groei en melk bevorder as die gedroogde gras. 11. Omdat jou diere minder rondloop kry ons beter resultate. Die dier kan nou stilstaan en vreet. 12. Herkouers het 'n beter vermoe om groen gras of spruite te benut as graan. Die verteerbaarheid van heel saad is baie laag(15%). As jy dit maal verhoog jy die verteerbaarheid maar as jy dit omskakel in spruite verbeter jy die verteerbaarheid die beste.
13. Jy kry tussen 4 tot 9 keer die massa van die saad in spruite. Ons werk gemiddeld op 1 tot 7 kg. Dit kan verbeter word met beter temperatuur beheer. Voer van diere; Die enigste proewe tot ons beskikking was speenkalwers wat as volg gevoer was; (a)die eerste 48 dae was 15 kg spruite gevoer met 3.1 kg swak droe voer soos droe gras. Die toename per kalf was meer as 1kg per dag. (b)daarna het die kalwers oor 22 dae 13kg spruite gekry met 7,8kg droe voer. Die toename met gewig het gedaal na 0,41 kg per dag. Dus die spruite is net met 2 kg verminder maar die massa toename het geweldig gedaal. Ook die droe materiaal is meer as verdubbel. Die gemete energie is egter verstommend. In geval (a) was die diere se inname 47 MJ terwyl in geval (b) 74 MJ. Dit weerspieel dus nie in die groei van 1 kg en 0.41 kg nie. Hieruit kan ons bloot aflei dat die teoretiese bepaling van die energie met groen spruite foutief is. Toets jou groenvoer self en laat weet ons oor jou sukses. Ons wil graag inligting deel tussen mense wat groenvoer kweek om die proses te verbeter. LET WEL: Onthou ons gebruik ons lede se ervaring en kennis om die prosedure saam te stel soos hierbo. So ook op jou pad vorentoe. Laat ons weet oor enige wenke en probleme sodat ons as n span kan saamwerk tot groter sukses.