Twee invloedryke Christene Die ou monnikordes, soos die Benediktyne, het al hoe meer begin afwyk van die oorspronklike monniksideaal. Hierdie monnike, wat die gelofte van armoede afgelê het, mag geen persoonlike besittings gehad het nie. Die kloosters waar hierdie monnike gewoon en gewerk het, mog egter wel besittings hê en het verskriklik ryk geword. Hulle het landerye, sierade en selfs kastele besit. Op hierdie manier het die monnike wat `n lewe van eenvoud en armoede moes ly, baie keer `n baie beter en gemakliker lewe gelei as die gewone mense en het baie monnike geword om hierdie rede. Bowendien het die kloosters saam met die rykdom baie mag gekry. Geld kan immers amper alles koop. Die kerk het hom al hoe meer begin inmeng met die wêreldpolitiek en magsvrae. Verskeie mense het hierteen in opstand gekom en hul eie monnikordes begin. Twee van die invloedrykste mense van hulle tyd was Bernard van Clairvaux en Fransiscus van Assissi. Bernard van Clairvaux Bernard is in 1090 naby Dijon in Frankryk uit `n adelike familie gebore. Op 19 jarige ouderdom oortuig Bernard dertig jong ridders om saam met hom monnik te word. Hulle sluit hulle by die Cisterciënser-orde aan. Hierdie monnikorde was baie streng teen die rykdom van die kerk en van Christene. Hulle kerke en kloosters was baie eenvoudig en het geen versierings of goue of silwer bekers, kandelare, ens gehad nie. Volgens hulle was rykdom net `n manier van die Satan om kinders van die Here te verlei tot sonde. Die ou monnikreëls is weer streng toegepas en hulle het ekstra moeite gedoen om ander mense te help wat in nood was. Bernard het al gou uitgestaan as iemand wat sy monnikamp baie ernstig opgeneem het en word gekies om `n nuwe klooster te begin in Clairveaux, die Ligdal. Hier sou Bernard die nuwe ab wees. Tenspyte van die feit dat hierdie dal nog kort te vore `n skuilplek van rowerbendes was, het baie mense hierheen getrek om naby Bernard te wees. Sy vurige woord, sy vroom lewe, sy liefdevolle leiding, die eenvoudige en gelukkige lewe wat hy gelei het was `n inspirasie vir baie en het `n diep indruk op hulle gemaak. Bernard was `n groot voorstander van `n lewe in afsondering, maar deur sy lewe het hy juis baie mense na hom toegetrek. Hy het die mense veral geleer dat God hulle lief het en dat hulle God slegs kan leer ken as hulle Hom lief het. Nie alleen op die mense rondom hom het hy `n groot invloed gehad nie. Selfs konings en keisers het aan hom raad gevra. By `n sekere geleentheid moes `n nuwe pous gekies word en daar was twee persone wat albei aanspraak hierop gemaak het. Bernard se raad is gevra en hy het die persoon gekies wat hy gedink het die beste pous sou uitmaak. Sonder enige verdere teenkanting is hierdie persoon toe as pous verkies.
Bernard het ook die tweede kruistog geinisieer. In watter mate Bernard getrou gebly het aan die leer van die Rooms Katolieke Kerk weet ons nie. In `n hele paar van sy geskrifte klink egter duidelik die boodskap van die ware Evangelie, naamlik dat die mens alleen gered kan word deur in Jesus Christus se verlossing te glo: Wie verslae is oor sy sonde en honger en dors na die geregtigheid, glo in U, wat die goddelose regverdig maak; en geregverdig alleen deur die geloof sal hy vrede hê met God. Bernard van Clairveaux Ook in die Middeleeue, onder die pousdom, het die Here sy kinders gehad. Martin Luther Vrae: 1. Hoe het die kloosters en monnike in die jaar 1050 N.C. verskil van die eerste kloosters en monnike? 2. Waarvoor was die Cisterciënser-orde bekend? 3. Waar moes Bernard `n nuwe klooster begin? 4. Hoe het Bernard die mense rondom hom beinvloed? 5. Wat het hy die mense rondom hom veral geleer?
6. Noem drie bewyse dat Bernard `n groot invloed gehad het op mense. 7. Hoe het Bernard geglo kan `n mens gered word?
Fransiscus van Assisi Fransiscus is in 1181 of 1182 gebore in die Italiaanse dorpie Assisi, ongeveer 120 km van Rome. Hy was die seun van `n ryk handelaar. As jong man was hy gewild, dapper en lief vir avontuur. As tiener was dit al duidelik dat hy `n gebore leier was. Fransiscus se grootste begeerte was om `n ridder te word en `n lewe vol avontuur te lei. Toe hy negentien jaar oud was is hy egter in een van die kleiner oorloggies met `n naburige dorpie, as krygsgevangene weggevoer en moes hy in Perugia vir meer as `n jaar in `n tronk deurbring. Hier het hy die dae omgekry deur liedere te sing en stories te vertel aan sy selmaats. Die volgende winter het hy baie siek geword. Terwyl hy in vreeslike pyn op sy rug lê en dink, besef hy dat sy lewe tot dusver totaal sinneloos en waardeloos was. Al gou nadat hy herstel het, het egter weer `n geleentheid opgeduik om aan te sluit by die Leër, hierdie keer op `n baie groter skaal. Sy ryk vader het hom voorsien van die beste perd, swaarde en klere wat sy geld kon koop. Dit het gelyk of die avontuurlike jong Fransiscus se ideale waar geword het. Volgens oorlewering het hy een nag `n droom gehad: In sy huis het hy nie sy vader se pragtige sy klere gesien hang nie, maar die blinkende harnasse van ridders. Hy het `n stem gehoor wat sê: Dit alles sal aan jou en jou leër behoort. Terwyl Fransiscus oppad was om oorlog te gaan voer, word hy weer vreeslik siek. Terwyl sy liggaam veg teen die koors droom hy weer. Volgens hom het God hom vertel om om te draai en terug te keer huis toe. God het `n ander plan vir sy lewe. In die jare wat volg het Fransiscus hom gereeld saam met `n vriend afgesonder in `n grot om te mediteer en tot God te bid. Hy besef dat God van Christene vra om Hom en hul naaste lief te hê. Om `n verskil te maak besluit Fransiscus om sy lewe te wy om armes en siekes te help. As ryk jong man was hy altyd vrygewig gewees teenoor die armes, maar dit was so maklik om geld te gee as jy baie het. Nee, hy wou een van hulle word. Hy het sy kans gekry toe hy eendag Rome besoek. Hier het hy `n groep bedelaars teëgekom - vuil, raserig, afstootlik. Fransiscus het een van hulle na `n stil plekkie weggeneem en daar met hom klere geruil en sy plek ingeneem tussen die ander stinkende, hongerige bedelaars. Saam met hulle het Fransiscus begin bedel. Fransiscus het nie arm geword, omdat hy daarvan gehou het om arm te wees nie, maar omdat Christus arm was. Fransiscus wou `n lewe soos Christus ly. Niks mog tussen hom en Christus kom nie en daarom wou hy breek met sy ou lewe van rykdom en mag, wat so maklik `n mens se lewe beheers.
Op een van Fransiscus se reise het hy `n preek gehoor wat sy lewe heeltemaal verander het. Die preek het gehandel oor Matt 10:9. Hierdie gedeelte het hom nog meer geinspireer om `n lewe van eenvoud en armoede te ly. Geklee in growwe klere, kaalvoet en sonder staf of stok het hy die land deurkruis om mense te bekeer. Al gou is hy gevolg deur een van die belangrike mense uit sy dorpie Bernardo di Quintavalle. Binne die eerste jaar het elf hulle by Fransiscus aangesluit. Sy volgelinge is die Fransiskaners of minder broeders genoem. Hulle het `n eenvoudige lewe in `n verlate huis vir melaatses gely. Meeste van die tyd het hulle egter deur die bergagtige streke van Umbria getrek. In 1209 het Fransiscus saam met sy volgelinge na Rome vertrek om aan pous Innocent III toestemming te vra om `n godsdienstige orde te begin en so het die Orde van die Fransiskaners ontstaan. Fransiscus se liefde vir die armes was nie maar net omdat hy hulle jammer gekry het nie, maar omdat hy in hulle mense gesien het wat Christus se liefde en redding nodig gehad het. Hy het hulle vertel van Christus wat vir hulle lief is en vir hulle sondes gesterf het. Hy het hulle vertel van die ewige lewe by God en die wonderlike lewe daar. Behalwe vir Fransiscus se liefde tot sy naaste en veral die arm, siek mense, is hy ook bekend vir sy liefde tot die natuur. In alles in die natuur het Fransiscus altyd God se hand gesien. Die blom wat God se prag reflekteer, die son wat `n afskaduwing is van God se lig en die berge wat die krag van God se arm wys. In alles rondom hom het hy God se teenwoordigheid en liefde ervaar: die gefluit van die voëltjies, die kabbeling van waterstroompies en die geskarrel van die eekhorings. Die natuur prys God se grootheid. Hoeveel te meer moet ons as mense dit nie doen nie? Fransiscus was anders as die ander predikers van sy tyd. Hy het nie hel en verdoemenis gepreek nie, maar vertel van God se grootheid en liefde. Sy boodskap het soos volg gelui: God stort sy ongelooflike liefde oor ons uit, deur Christus wat vir ons sondes gesterf het. Ons moet hierdie liefde terugstuur deur Christus, deur sy broeders en susters lief te hê.
Vir Fransiscus was dit ook baie belangrik dat die gewone mense tot God in hul alledaagse taal kon bid. Hy het ook altyd in die taal van Umbrië geskryf en nie in Latyn soos in daardie tyd die reël was in die Roomse Kerk nie. Fransiscus wou graag sending dryf onder die moslem Turke. In die jaar 1212 n.c. vertrek hy per boot na Sirië, maar ly skipbreuk op die kus van Slovenië en hy keer onverrigter sake terug. Twee jaar later vertrek hy na Marokko om daar sending te dryf, maar oppad (in Spanje) word hy so siek dat hy weereens moes omdraai. Fransiscus was gereeld siek. Hy het later ook `n oogsiekte ontwikkel waarvan hy baie las gehad het. In verskeie stede soos Siena, Cortona en Nocera het hulle hom probeer behandel, maar sonder sukses. Uiteindelik is hy na Porziuncola geneem waar hy op 3 Oktober 1226 gesterf het. Op 16 Julie 1228 is hy deur die volgende pous Gregorius IX as heilige verklaar. Die volgende dag het die pous die hoeksteen gelê van die Basilika (langwerpige kerk) van St. Fransiskus, wat vandag nog in Assisi gesien kan word. Vrae: 1. Beskryf Fransiscus se kinderdae. 2. Hoe het Fransiscus volgens oorlewering tot bekering gekom? 3. Wat het in Rome gebeur?
4. Waarom wou Fransiskus `n arm en eenvoudige lewe ly? 5. `n Preek uit Matt 10:9 het Fransiskus se lewe verander. Skryf die teks neer. 6. By wie het Fransiskus toestemming gaan vra om `n godsdienstige orde te begin en hoe word hulle toe genoem? 7. Waarom was Fransiskus so lief vir die natuur? 8. Beskryf Fransiskus se pogings om sending onder die moslems te dryf. 9. Waarom was dit vir Fransiskus belangrik dat die gewone mense in hul eie taal tot God kon bid en sy boeke kon lees? 10. Hoe het Fransiskus gesterf en hoe het die Roomse Kerk hom vereer? 11. Wat kan ons vandag uit Fransiskus se lewe leer?