Goeie Nuus Maandblad April 2009

Save this PDF as:
 WORD  PNG  TXT  JPG

Size: px
Start display at page:

Download "Goeie Nuus Maandblad April 2009"

Transcription

1 Goeie Nuus Maandblad April 2009 NG Gemeente Meyerspark - Jaargang 5 Uitgawe 12 Fees-uitgawe 4 SENIOR BEDIENING N DINAMIESE ERVARING! - Ds Niekie Rothmann As n mens hoor van Meyerspark se Senior Bediening mag n mens dalk dink aan n aantal ou mense met grys koppe wat heeldag sit en niks doen nie, en maar net bestaan van dag-tot-dag! Mense wat wag dat die lewe moet verbygaan! Moet dit nie glo nie! Meyerspark se Seniors is mense wat voluit lewe!! Dis n klomp mense met n ongekende vitaliteit en n passie vir die Here. In hierdie geval is die spreekwoord só waar wat sê: Oud, maar nog nie koud! Dit kan ons sien uit alles wat hulle hier in die gemeente doen! In Meyerspark is meer as 34% van die lidmate 60 jaar plus. Hulle bydrae in die gemeente is van onskatbare waarde. As dit by gemeentelike aktiwiteite kom, staan hulle vir niks terug nie!! Hulle is betrokke by n hele klomp bedieninge van Bybelverspreiding tot Naaldwerkklasse vir swart vroue. Van Evangelisasie tot teeskinkbeurte. Meer as 25 jaar gelede is die Mini-Dienssentrum hier gestig. Wat daar aangebied word, is sielevoedsel! Dis van inspirerende praatjies tot mense wat kom sing, ontbyte, braaigeleenthede, uitstappies, ensovoorts. Dan is daar ook nog tyd om op n Woensdag jou bloeddruk te laat meet en mediese wenke te kry van ander bekwame senior burgers. Die Senior Bediening beskik ook oor n hele aantal ortopediese hulpmiddels wat uitgeleen word aan mense wat dit nodig het. Dit sluit in rolstoele, krukke, looprame, ensovoorts. Dit kan enige tyd by die kerkkantoor verkry word (op bruik-leen-basis). Omgee Sonder Grense Om rondom die Woord van die Here vir Bybelstudie bymekaar te kom, is een van die hoogtepunte van die week. Om daar die kennis wat ons Seniors het oor die Bybel en hulle geloofservaringe oor jare te hoor, is net n inspirasie en belewenis! n Verdere kenmerk van ons Senior Bediening is hulle omgee vir mekaar. Hier word ervaar hoe mekaar se laste gedra word! Dis kos aanry, besoeke, vervoer vir diegene wat nie meer kan nie, ensovoorts. Ons leuse Omgee sonder Grense word werklik hier uitgeleef! Moet ook nie dink ons is verstok in ons idees nie nee!! Hier word positief en op n vernuwende, kreatiewe wyse gedink en geredeneer oor die lewe, kerk-wees en baie ander sake. Antoinette Herbst is die voorsitter van die Senior Bediening en onder haar bekwame leiding gebeur daar baie! So dikwels hoor ons: Om oud te word is nie vir sissies nie. Dit is waar, maar as jy na Meyerspark se Senior Bediening kyk, is daar nie sissies nie, want dit woel en werskaf en is oral betrokke! Daar is nie tyd om oud te word nie!! 100 Jaar oud Die spreekwoord sê: Met die grysheid kom die wysheid. Dis werklik waar van Meyerspark se seniors. Dis vir my n belewenis om deel te wees van só n klomp mense wat, al is die jare soms hoog, twee is al oor 100 jaar oud, nog so jonk van gees is! Meyerspark Senior Bediening is die deel van die kern van ons gemeente wat werklik n verskil in hierdie wêreld maak ter wille van die Koninkryk van God! Lees binne: Ek onthou nog. Bl 2 Opwindende Feesnaweek lê voor Bl 3 Nuwe Begroting vir 2009/10 Bl 4 Groeteboodskap Bl 5 Kleingroepbediening Bl 6 My verbintenis met Meyerspark Bl 7

2 2 Goeie Nuus Seniors vervolg DIE SENIOR BEDIENING IS N FAMILIE VAN GELOWIGES Noudat 25 jaar verloop het en dit ook ons gemeente se feesjaar is, bring ek graag hulde aan wyle ds Josua Loots. Hy het vroeg in die tagtigerjare na vore gekom met die idee om n dienssentrum te begin om sodoende meer senior lidmate te bedien en betrokke te kry in die gemeente. Sy antwoord op my vraag hoe dit gedoen kan word, was dat daar reeds n dienssentrum bestaan het in sy vorige gemeente, Middelburg, en dat hy sal reël dat ons by hulle kan gaan kers opsteek. Ons het gaan kyk en samesprekings gehou en met baie vrywilligers het ons die Mini-Dienssentrum op 4 Maart 1984 gestig, aldus Antoinette Herbst. Ds Josua Loots het ons begelei en as raadgewer opgetree. Hy het ons saak by die kerkraad bepleit en gedurende al die jare is die kerkraad ons nog steeds baie goedgesind. Dit bly nog steeds n wonderlike belewenis om deel te wees van hierdie familie van gelowiges en daarom het ons ook besluit om ons leuse aan te pas by die huidige omstandighede en is dit nou OMGEE SONDER GRENSE. Deur die afgelope 25 jaar en tot vandag toe is die teksvers Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee, ons rigtingwyser. Die grootste beloning wat ons kan ontvang, is die dankbaarheid wat ervaar word van elkeen wat ons deur middel van die dienssentrum bereik het. EK ONTHOU NOG.. As lid van die kerkkoor onder leiding van Pierre Malan het ons elke Donderdagaand n kooroefening gehad. Nader aan die einde van die jaar moes ons soos vandag nog die geval is meer dikwels bymekaar kom om te oefen vir die Kersuitvoering. Dit was ook die gebruik dat ons elke jaar saam met n ander kerkkoor sou optree en so kan ek nog ons optrede saam met die koor van Aasvoëlkopgemeente in Johannesburg baie goed onthou! Omdat kombi s daardie jare baie volop was in die gemeente selfs die dominee het een gehad het ons van die welwillendheid van die gemeentelede gebruik gemaak vir vervoer. Soos afgespreek, het ons in gelid met 3 kombi s om 17:00 vanaf die kerk in Meyerspark vertrek om te verseker dat ons betyds sal wees vir die aanddiens in Aasvoëlkop-gemeente. Alles het goed verloop en na afloop van die diens het ons weer in die pad geval. Maar ons wat saam met Fanie Bredekamp gery het, het êrens langs die pad besef dat hý die pad in die donker ietwat byster geraak het. Elke nou en dan het hy gesê dat hy seker is dat ons op die regte pad is en dat ons vroeër daarlangs gery het op pad na Johannesburg! Só het dit al hoe later geword en só het ons n hele paar onnodige draaie gery en teen die tyd dat ons die regte pad uiteindelik gevind het en tuisgekom het, was dit reeds middernag! Nodeloos om te sê, het my verbintenis met die kerkkoor tot n einde gekom na aanleiding van hierdie middernagtelike uitstappie saam met die kerkkoor. Hiermee bring ek ook hulde aan die nagedagtenis van Pierre Malan hy was voorwaar n waardige koormeester. - Antoinette Herbst SENIOR BEDIENING MET N VERSKIL GEEN OUDERDOMSBEPERKING NIE! Afgetrede persone, veral dié wat jonk van gees wil bly, word genooi om by ons in te skakel om die lewe nog meer interessant te maak! Omgee sonder grense is ons motto en doelstelling. Dis hier waar ons mekaar beter leer ken, saam dink en doen en daarna volg die omgee en ondersteuning wat elkeen van ons dikwels nodig kry. Byeenkomste word gehou op Woensdagoggende behalwe skoolvakansies. Kliniekdienste is beskikbaar soos op program aangedui. (In kerkkantoor beskikbaar). Die rolstoel, krukke en ander hulp-apparaat vir versorging tuis, is op aanvraag beskikbaar vir tydelike gebruik. Die leenbruikstelsel behels slegs dat u die apparaat sal terugbesorg sodra u dit nie meer benodig nie. n Donasie aan die Dienssentrum sal waardeer word. Vir meer inligting skakel Charlotte Rossouw ( ) of Antoinette Herbst ( ).

3 Goeie Nuus 3 OPWINDENDE FEESNAWEEK Lê VOOR Ons gemeente-feesvieringe reik na sy hoogtepunt in die laaste naweek van Mei. En wat van n opwindende reeks programme wag nie op ons nie! Dit beloof feesvier op sy beste! Vrydagaand, die 29ste Mei, skop dit af met n luisterryke aanbieding deur die jeug. Dit gaan glo great wees, of is dit cool! Wat dit alles gaan behels is nog nie duidelik nie, maar soos ons Meyerspark se jongmense leer ken het, is dit toegedraai in n verrassingspakkie. Saterdag, die 30ste Mei, gaan werklik n besonderse dag wees in Meyerspark se geskiedenis. Net so na ontbyt kom die hele gemeenskap in beroering. Gemeentelede vat hande met hul bure en saam stap hulle uit drie verskillende windrigtings na die kerkgebou, waar almal op die grasperk voor die hoofingang bymekaarkom om n spesiale gedenksteen te onthul. Presies hoe die optog georganiseer word, sal te gelegener tyd aan die gemeente gekommunikeer word. By die onthulling van die gedenksteen sal n kort seremonie plaasvind. Oudleraars sal kans kry om hul groeteboodskappe oor te dra, en op gepaste wyse sal dankbaarheid aan ons Liewe Here betuig word vir 50 jaar se keur-seëninge aan die gemeente. Allerhande geregte Daarna, omstreeks 10:00, volg n verdere hooptepunt, naamlik n fees-kermis op die ganse terrein van die kerkkompleks. Stalletjies in tientalle gaan aan groepe beskikbaar gestel word, waar allerhande soorte eetgeregte - kerrie en rys, boerewors, braaivleis en pap, hotdogs, hamburgers, pannekoek, poedings, koffie, tee en wyn bedien word. Elke stalletjie sal bestaan uit n tafel met stoele. Party in die kerksaal, ander in die parkeerterrein, op die gras, of waar daar ookal n skropplekkie beskikbaar is. Die gedagte is dat nie winste gemaak word nie, maar dat almal net gesellig sal verkeer. Immers is dit feestyd. Intussen sal dié wat kans sien vir bloedskenking hulle in die konsistorie gaan uitstrek. Dit klink erger as wat dit gaan wees, aangesien dié bloedtapping meer simbolies van aard sal wees. Maar tog opwindend. Twee Nagmaaldienste Sondag, die 31ste Mei kom kerkgangers soos gewoonlik in die kerkgebou en die saal bymekaar vir gewyde Nagmaaldienste. Dié twee dienste sal gelyktydig plaasvind en deur ons eie leraars aangebied word. Benewens die koor se optrede sal net n paar minute ingeruim word vir n kort groeteboodskap deur n predikant van die Ring in sowel die kerkgebou as die saal. Dit is kortliks die hooftrekke van ons feesnaweek. Na gelang meer besonderhede geskikbaar kom, sal die gemeente volledig ingelig word. NUUS VAN DIE VROUEBEDIENING Die somer staan einde se kant toe, die dae word korter en oral sien mens blare verkleur en afval. Een van die dae is dit herfs en dan is die eerste groot gejaag van die nuwe jaar hopelik vir eers verby. Ons beplan reeds vir die tweede kwartaal. Die feesnaweek sal beslis die hoogtepunt van ons aktiwiteite wees. Wat n wonderlike voorreg vir elkeen van ons om dit te kan beleef! Ons bede is dat die Here al hierdie geleenthede ryklik sal seën. Saterdag 20 Junie Ons wil graag iets spesiaal vir vroue aanbied sommer net n interessante en lekker kuieroggend. Vroue wat as verteenwoordigers vir bv skoonheidsmiddels (ook ander produkte) optree, kan gerus met ons skakel. Verder kan persone wat mooi handwerk doen, dit gerus oorweeg om dit vir ons te kom tentoonstel en selfs ook te verkoop. Of kom demonstreer vir ons iets wat jy goed kan doen en ons by jou kan leer. Hier is jou kans om ook n bydrae tot ons jaarprogram te maak! As jy iets het om met ons te deel, moet jy asseblief so gou as moontlik met ons praat. Hou die Goeie Nuus dop vir meer besonderhede. Loïs Geldenhuys ( / ), Hermien Liebenberg ( ) en Tersia Petzer ( werk) Wêreldbiddag vir Vroue 2009 Dis met groot dankbaarheid dat ons hulde kon bring aan die baie vroue wat oor die afgelope 50 jaar in die gemeente gewerk en gedien het. Monica Anderson het met haar besondere talent om te kan skryf en n storie te vertel, oor elke predikantsvrou wat die gemeente al gehad het, herinneringe met ons gedeel. Met skriflesings oor die tema CHRISTUS is ons LIG, gebede en liedere, kon elkeen wat dit bygewoon het, hul opnuut toewy om waarlik LIGDRAERS vir CHRISTUS in ons gemeenskap te wees!

4 Goeie Nuus 4 NUWE BEGROTING VIR 2009/10 AAN GEMEENTE VOORGELê Die gemeente se begroting vir die nuwe boekjaar (1 Maart 2009 tot einde Februarie 2010) is deur die kerkraad goedgekeur en daarna op Sondag 22 Februarie 2009 is dit ook aan die gemeente voorgelê. Die nuwe begroting maak voorsiening vir n tekort van R Maar omdat die verwagte (begrote) tekort van R in verlede jaar se begroting omgeskep is in n oorskot van om en by R , sal die werklike tekort vanjaar net R bedra. En soos Pieter Blignaut, voorsitter van die Finansiële Bediening, dit gestel het, kan ook hierdie tekort uitgewis word as elke bydraende lidmaat vanjaar maandeliks net R45 ekstra bydra! Wat vanjaar bykomend tot die normale begroting is, is die bedrag van R wat vir die feesjaar geoormerk is, asook R vir toerusting vir die nuwe Kommunikasie Bediening wat nou besig is om beslag te kry. Verder het die kerkraad besluit om ruimer by te dra tot geestelike groei en uitreikaksies. Dit beteken dat die begrotings vir bedieninge wat in hierdie kategorie val, aansienlik verhoog is. Só byvoorbeeld is die begroting van Getuienisbediening met 12% verhoog, die van Aanbidding Bediening met 21%; Jeug met 14%; Sorg en Opbou met 29% en die Vrouebediening met 24%. Die hooftrekke van die begroting sien soos volg daaruit: Onderstaande tabel wys die inkomste en uitgawe vir die vorige boekjaar en die begrote inkomste en uitgawe vir die huidige boekjaar. Die 2008/9 boekjaar het egter afgesluit met n oorskot van om en by R

5 Goeie Nuus 5 GROETEBOODSKAP Liewe gemeente van Meyerspark Dit is met vreugde en verlange dat ons aan julle dink in die gemeente se halfeeufeesjaar. Wat n voorreg om vir vyftig jaar lank, gemeente van die Here te mag wees. Ons dank die Here vir sy genade in en oor Meyerspark aan Hom alleen kom al die lof en die eer toe! Ons bediening in die gemeente vanaf 2 Februarie 1992 tot 13 Oktober 2002 verteenwoordig van die gelukkigste en vervullendste jare in ons lewens en bediening. Toe Meyerspark Gemeente die 40 jaar mylpaal bereik het, het ek en ds Izak saam n beriggie vir die Feesblad geskryf. Daarin het ons onder andere gesê: Meyerspark... sal altyd ons eerste liefde wees. Daardie woorde bly steeds onveranderlik waar. Wanneer ons terugdink oor die stukkie lewenspad wat ons bevoorreg was om saam met die gemeente te kon aflê, is daar talle kosbare herinneringe, soet sowel as seer. Ons onthou die lydingspaadjies wat ons saam met kankerlyers soos Joan Pretorius, Rika Uys, Esterina Richter en Herman Steyn kon stap, gelowiges wat in hulle lyding vir ons almal voorbeelde gestel het en ons bemoedig het in geloofsvolharding. Ons onthou die genesing van Esmé du Toit, n genadewonder. Ons onthou die skok toe n jong Stefan Fourie verongeluk, die dag toe hy sy matriekuitslae moes ontvang, die verslaendheid en gebrokenheid rondom die tragiese sterfgevalle van Esna Richter, Marelese Prinsloo en Orlando Strauss, die skok oor die moord op ds Wannies... hoe tydelik is ons aardse tentwoning tog nie. CD-Vrystelling Vreugdes was daar in oorvloed, te veel om op te noem. Vreugdes soos om vir amper elf jaar lank met dierbare kollegas Izak en Hermien Liebenberg te kon saamwerk, en hulle vriendskap te beleef. En ook die enkele jare saam met ds Floors Ellis en wyle ds Johan Wannenburg, toegewyde leraars wat hul lewens vir die bediening gegee het. Ons onthou die opwinding van ons eie Musiekbediening, nuwe liedere en n CDvrystelling, die toewyding van die Goeie Nuus redaksie met ons eie weeklikse gemeentekoerant, lidmate wat met hulle kundigheid en gawes die Here met oorgawe in die gemeente dien, konsensieuse kerkraadslede, begaafde orreliste, effektiewe kerkkantoorpersoneel, oom Kannetjie en Valeska wat karakter aan die kosterspos verleen het, die ywer van die Vroueforum, die minsame Mini-Dienssentrum, die vlugvoetige Voetslaanaksie, n Getuienisbediening wat geen moeite ontsien om die Evangelieboodskap tot aan die eindes van die aarde uit te dra nie, lewenslustige kindertjies en n energieke jeug, meelewende middeljariges en dienswillige grysaards... lidmate wat betrokke is en opreg omgee vir die Here, die kerk en ook vir die dominees. Meyerspark is voorwaar n begenadigde en geseënde gemeente, en sal altyd deel van ons lewens bly. Seënwense met u halfeeu feesvieringe. Die spore wat reeds getrap is, waarna u in hierdie dae terugkyk, dui ook die koers vir die toekoms aan. Loop getrou daarop, met u hand in die Hand van die Hoof van die kerk : ons Here, Jesus Christus. Mag die woorde van die Toewydingslied steeds in Meyerspark bewaarheid word: In U Naam alleen deur U krag alleen tot U eer, o Here wil ek leef Want uit U en deur U en in U en tot U, o Here is my hele bestaan! Ds Uli en Rentia Trümpelmann Ds Uli preek op Sondag 19 April om 09:00 in ons kerk PAASGEDAGTES WAT BLY God word mens, Liefde onbegrens, Sodat ons kan weet God het ons nie vergeet. Jesus ly aan 'n kruis Terwyl mense Hom verguis, Spotters vra 'n wonderteken Terwyl Hy ons skuld verreken. God se liefde is oneindig groot, Jesus sterf vir ons die dood. Geen mens kan dit ooit verklaar: God wat Hom by ons kom skaar. Paassondag gee ons nuwe hoop, Jesus se graf is leeg en oop. Die dood is deur Hom oorwin, Op sy lydensweg gaan ons die hemel in.

6 6 Goeie Nuus KLEINGROEPBEDIENING n Kleingroep, omgeegroep of Bybelstudiegroep in n gemeente is basies dieselfde die uitlewing van dissipelskap. Dis n geleentheid om saam met medegelowiges lof aan God te bring, uit die Skrif te leer en te aanbid. Ons is nie passiewe toeskouers nie, maar deelnemers om ons verhouding met Christus en ons medemens uit te bou in die liefde en meelewing van mekaar se lief en leed. Die krag van ons omgeegroep lê nie net in gereelde Bybelstudie byeenkomste nie, maar veel dieper in n werklike omgee vir mekaar. Ons deel in mekaar se vreugdes, maar so ook mekaar se leed en ondersteun en onderskraag mekaar wanneer nodig. Ons is tans n groep van agt lede die helfte ouer as sewentig. Behalwe die groep wat gereeld bymekaar kom, bestaan die groep eintlik uit n paar meer wat vanweë werksomstandighede of gesondheidsprobleme nie die byeenkomste kan bywoon nie, maar deel in die omgee en liefde vir mekaar. Ons groep het n unieke eienskap: dit is gebou op n onderlinge hegte vriendskap en bestaan vir ongeveer 50 jaar nog n rede om fees te vier! Werklikheid in ons lewens Daar word gereeld voorbidding vir ons lede en ander gedoen en daar word ook uitgereik na mense wat nie in ons omgeegroep is nie, onder andere mense wat op die gebedslys van die Goeie Nuus verskyn. Ons doen Bybelstudie en is tans besig met die boek Romeine deur Eddie Rasnake. Dit dra by tot beter kennis en geestelike groei. Deur die Bybel beter te verstaan, word Christus n groter werklikheid in ons lewe. Ons kan getuig van gebedsverhoring en wonderwerke. - Kom loer gerus in by ons in die sysaal Sondagoggende 10:00 10:30. Bring jou koppie tee saam en ontspan rustig met n tydskrif terwyl jy wag vir die kinders tydens Kategese. Snuffel ook deur die voorraad: Boeke aktuele onderwerpe; fiksie; inspirasie; humor; kinderverhale; tienerkwelvrae en strokiesprente, en nog vele meer. CD s geestelike musiek; kinderliedjies DVD s flieks; dokumentêr - Ons het ook n ruilhoekie: neem gerus van die Bybelstudiegidse en dagstukkies; materiaal wat reeds tuis deurgewerk is; alles is welkom op ons ooprak. Skenk asseblief tydskrifte met n geestelike inslag en ruil so uit onder mekaar. Op die manier spaar ons almal en kry optimale waarde uit die baie duur tydskrifte. - Sukkel jy om materiaal te vind vir bv. n groepbespreking, of inligting oor n onderwerp? Ons kan dalk help. - Weet jy van iemand wat nie n Bybel het nie? Ons het verskeie kopieë op die ooprak. Neem gerus dis gratis! - Het jy goeie geestelike boeke (veral ook fiksie) wat in die laaste 10 jaar gepubliseer is, en jou boekrak volstaan? Is jy te jammer om dit sommer net weg te gooi of te laat verpulp? Bring dit gerus vir ons. Ons sal wel n plekkie daarvoor vind: òf op die rak, òf by die hospice se boekverkoping. Dieselfde geld vir DVD s, video s en CD s. Wil jy ook graag geestelik groei, uitreik na ander, en die Here dien en verheerlik deur in te skakel by hierdie bedieningsaksie? n Kleingroep of omgeegroep word beskryf as n gimnasium van liefde na die voorbeeld van 1 Korintiërs 13. Al het ek alles en geen liefde nie, is ek niks. Groepleier : Johan Pretorius IN DIE MEDIASENTRUM Books can be dangerous. The best ones should be labeled: This could change your life. " ~Helen Exley Ons biblioteek bestaan lankal nie meer net uit boeke nie, maar ook video s, DVD s, CD s en kassette wat die potensiaal het om jou lewe te verryk en jou geestelik te laat groei: NAAM VIR ONS MAANDBLAD Ons het nog n klompie voorstelle vir n nuwe naam vir ons maandblad ontvang. Dankie. Dit is goed om te weet hoe ander dink. Die volledige lys sien nou só daaruit: Die Kandelaar, Môrelig, Deo Gloria, Shalom, Lief en Leed Maandblad, Vat Vyf Nuus, Goeie Môre, Alfamega, ALOM NUUS, Brood op die Water, Die Saaier Saai, Die Binnekamer, Leeg of Vol, Ons Herder, Die Op Hoogte, Blye Tyding, Kollig op Maandnuus, Praat Saam, Die Voetspoor, Plus 5, Kerk-koerant, Die Ligdraer en Kerk Nuusblad. Nou t julle ons lekker aan die dink gesit! Hou Die Maandblad dop vir die keuse. -- Redakteur

7 Goeie Nuus 7 DIE KERK-KOMBI VERKOOP VIR R1 - Antoinette Herbst Dit het werklik gebeur, kort nadat die seniors hulle laaste rit met die kombi na Moreletapark gemeente onderneem het. Met Tommie Britz as die bestuurder het alles goed verloop. Stadig maar seker het ons elke opdraande uitgekruip en daarna n bietjie vinniger met elke afdraande af het ons darem betyds by die kerk aangekom en lekker gekuier. Met die terugrit het alles voor die wind gegaan tot ons in Erasmusstraat ingedraai het en net dáár het die kombi die gees gegee! Stadig, teen n slakkepas, het ons die parkeerterrein by die kerk gehaal. Die passasiers salig onbewus van wat so pas langs die pad gebeur het en nog vol verwondering oor die besoek aan Moreletapark se massiewe kerk het elkeen koers gekies na sy motor en huis toe gery. Ons wat die besoek gereël het en die seniors vergesel het, was teen daardie tyd baie verlig en het weereens besef dat die Here ons behoed en bewaar het langs die pad en ons veilig teruggebring het na Meyerspark. Tot vandag toe nog ervaar ons dieselfde beskerming wanneer ons op pad is na verskillende besoekpunte in en om die stad. As n mens nóú daaroor nadink, is dit tog jammer dat die kombi, die eertydse geskenk aan die KJA, wat vir baie jare getroue diens gelewer het in die gemeente, só aan sy einde gekom het. Daar is sekerlik vandag nog van ons lidmate wat die kinders destyds na die Kategesekampe vergesel het wat sal kan onthou hoeveel kere die kombi, volgelaai met kosvoorrade en ander kamp benodigdhede, saam met die bus op pad was na n kampterrein. Die kombi was voorwaar n getroue dienaar van die gemeente. Naskrif: Inderwaarheid is die kombi aan n sendinggemeente geskenk (vir R1 verkoop). Wat daarna van hom geword het, sal niemand weet nie. Daar is nog van die kleurvolle feeskalenders in die kerkkantoor beskikbaar teen R30 per eksemplaar. PROPERTY 100 Koop en verkoop van eiendomme Skakel Stienie Naudé ( ) (Eiendomsagent) BOOMSLOPING Boomsloping en snoei van bome en struike. Kontak Ernst by MY VERBINTENIS MET MEYERSPARK-GEMEENTE Op Republiekdag, 31 Mei 1961 het my man, Pieter Rossouw, en ek met een klein dogtertjie en n baba van vier maande, Gracelaan 27 in Murrayfield ons tuiste gemaak. Ds Bertie Lombard van Meyerspark het ons kom opsoek in ons onklaar huis. Hardie Laubscher was ons diaken en ons tweede dogtertjie is gedoop in Silverton se stadsaal, waar die eredienste toe plaasgevind het. Ons derde dogter is deur ds Jan Haasbroek op Elsburg gedoop. Nadat ons vierde dogter gedoop is in Meyerspark se nuwe kerkgebou, het ons met al die gaste vir tee, n wyle vergeet om die tweede oudste sussie te gaan haal by die Sondagskool. Hulle het net daar by die westedeur stroopsoet bly wag totdat ons opgedaag het. (Dit was voor die tyd van selfone). April 1969 is ons seun gebore, ds Lombard het hom ook gedoop en weer eens was dit n groot teedrinkery! Vroeër dieselfde jaar is die kerksaal, (waarvan my man die argitek was) voltooi en ingewy. Hy het ook verskeie jare op die kerkraad gedien as jong ouderling het Skuilkrans afgestig en moes die Rossouw-gesin na tien jaar totsiens sê. Baie dankie vir die lekker saamwerk en aangename herinneringe uit daardie tye. Nadat Pieter afgetree het, was ons agt jaar in Nelspruit woonagtig waar hy oorlede is. Terug in Pretoria is ek dankbaar en gelukkig om weer deel te wees van die NG Gemeente Meyerspark. Nederig en met groot dankbaarheid wil ek graag noem dat al vyf kinders baie gelukkig getroud is met pragtige talentvolle kinders. Hulle woon en werk in vyf verskillende provinsies van ons mooi land. Die Here kry al die Eer! Ina Rossouw (Willow Estate)